satire s.nw. die gebruik van humor, ironie, oordrywing of bespotting om mense se onnoselheid bloot te lê en te kritiseer, veral in die konteks van kontemporêre politiek en ander aktuele kwessies.

Sport

Rassie Erasmus vra my vrou om Vrydag vir die All Blacks te kook

Sy maak die seekospastei reeds Donderdag klaar sodat die geure kan trek. Hy het ekstra mayonnaise gevra.

Jurie Nalis ·

'n Rugby-afrigter in Springbok-drag staan op 'n oefenveld met 'n selfoon teen sy oor.
Illustrasie: Flash Potgieter

Die nasionale direkteur van rugby, Rassie Erasmus, het Dinsdagmiddag omstreeks drieuur self ons landlyn gebel met 'n versoek wat my vrou dadelik as 'n groot eer beskryf het.

Volgens my vrou het Erasmus baie beleefd gevra of sy bereid sou wees om Vrydagaand 'n stewige ete vir die hele Nieu-Seelandse toergroep by hul hotel voor te berei. Hy het glo verduidelik dat die besoekers smag na outentieke plaaslike kos voor die naweek se toets.

"Rassie het spesifiek gevra vir my seekospastei," sê sy. "Hy het gesê ek moenie suinig wees met die mossels en die vars room nie, en dat dit die beste is as ek dit reeds Donderdag klaarmaak sodat die geure behoorlik kan trek."

Sy beplan om die gereg Vrydagmiddag teen vyfuur by die hotel se kombuis af te lewer. Erasmus het glo aangebied om al die onkoste uit sy eie sak te dek en gevra of sy nie dalk ekstra mayonnaise by die bykosse kan voeg nie.

Ons buurman het gister gevra of ons seker is dit is nie 'n grap nie, maar my vrou sê die Springbok-afrigter was doodernstig oor die foon. Sy het vanoggend reeds die eerste bestanddele begin uitsit.

Die Transvaler het met haar bure gepraat. Hulle wou nie kommentaar lewer nie, maar het wel genoem dat al wat hulle vir die All Blacks kan sê, is: Sterkte!

Lees ook

Kry Brekende Nuus via E-pos

Ons stuur dit sodra ons dit versin het.

Ons stuur net die nuusbrief. Jy kan enige tyd uitteken.