Kaapse egpaar kondig aan: Dis ’n dogtertjie
’n Privaat huurvlug sou R185 000 gekos het. Twee rookpatrone teen R850 stuk het die begroting in die groen gestoot.
Jurie Nalis ·

Werner en Anelle Louw van Constantia het Saterdagmiddag bevestig dat hulle ’n dogtertjie verwag, nadat twee passasiersvliegtuie van Airlink tydens die amptelike voorwedstryd-oorvlug bo die Kaapstad-stadion ’n wolk pienk rook vrygestel het.
Mnr. Louw, wat self as gesagvoerder in die voorste vliegtuig gesit het, sê die besluit om hul geslagsonthulling by die verrigtinge voor die toetswedstryd in te skakel, was bloot prakties van aard.
“’n Privaat huurvlug met twee straalvliegtuie sou ons maklik R185 000 gekos het,” het hy gesê. “Aangesien Airlink in elk geval om 16:58 oor die veld moes vlieg, het ons net vooraf twee goedgekeurde rookpatrone van R850 stuk by die grondpersoneel ingehandig. Dit het die begroting mooi in die groen gestoot.”
Mev. Louw het die geleentheid saam met vriende vanuit ’n losie dopgehou en gesê sy is dankbaar dat die internasionale wedstrydskedule so goed by haar tweede trimester ingepas het.
Wat die doop betref, sê mev. Louw hulle verkies om die seremonie eenvoudig en binne gesinsverband te hou. Hulle ondersoek tans of die plaaslike NG gemeente se oggenddiens op 2 Januarie by die roete van die Kaapse Klopse se optog kan aansluit.
Lees ook
Kry Brekende Nuus via E-pos
Ons stuur dit sodra ons dit versin het.
Ons stuur net die nuusbrief. Jy kan enige tyd uitteken.









