satire s.nw. die gebruik van humor, ironie, oordrywing of bespotting om mense se onnoselheid bloot te lê en te kritiseer, veral in die konteks van kontemporêre politiek en ander aktuele kwessies.

Sake

Stad Johannesburg maak OnlyFans-rekening oop

Dis tyd om diep te grawe en die stad se skuld te delg.

Sakkie Kleingeld ·

'n Slaggat vol water, dramaties belig met 'n donker agtergrond, geneem soos 'n produkfoto.
Foto: Flash Potgieter

Die Stad Johannesburg het sy amptelike intekeningdiens op die inhoudsplatform OnlyFans bekendgestel nadat die stadsraad dit met 'n volstrekte meerderheid goedgekeur het. Die inisiatief vorm deel van die metro se strategie om sy R6,8 miljard-skuldlas te verlig deur onbenutte munisipale bates te monetariseer.

Volgens die waarnemende finansiële hoof, mnr. Ou de Teur, bied die kanaal intekenaarvlakke wat wissel van R50 per maand vir die basiese pakket — wat weeklikse hoë-resolusie-foto's van nuwe slaggate in Jan Smutsrylaan insluit — tot 'n R150-prioriteitspakket. Intekenare op die hoër vlak kry 24 uur voor die algemene publiek toegang tot die vleiende foto's, asook eksklusiewe agter-die-skerms-beeldmateriaal van 'n gebarste rioolpyp in Turffontein.

"Ons model fokus op volhoubare inkomstegenerering sonder om die bestaande tariefbasis te belas," het De Teur gesê. "In die eerste 48 uur het die profiel reeds R340 000 opgelewer, wat meer is as wat Johannesburg Water verlede kwartaal aan agterstallige rekeninge in Streek F kon invorder. Dis tyd om diep te grawe en die stad se skuld te delg."

Die opposisieraadslid Pieter Brink het die skuif gekritiseer, maar bevestig dat hy ingeteken het sodat hy 'n ogie daaroor kan hou. "Alhoewel die foto's 'n mens maklik kan verlei, is ek slegs ingeteken om my pos ordentlik uit te voer," het hy gesê. "Ons werk hier met kos!" het Brink geskree voor hy uitgestorm het.

Die stad beplan om teen die einde van die finansiële kwartaal regstreekse video-uitsendings van kabeldiefstal-ondersoeke by die intekeningopsies te voeg.

Lees ook

Kry Brekende Nuus via E-pos

Ons stuur dit sodra ons dit versin het.

Ons stuur net die nuusbrief. Jy kan enige tyd uitteken.